Home > Prospective students > Welcome > Welkom by UK
Prospective students
Home > Prospective students > Welcome > Welkom by UK

Welkom by UK

UCT

Welkom by die Universiteit van Kaapstad!

Dié webtuiste is ontwerp om jou te help om meer oor die werk en lewe by hierdie wêreldklas-instelling te wete te kom. Die UK het ses kampusse. Dit sluit in die boonste, middelste, en onderste kampus, die Hiddingh-kampus, die Gesondheidswetenskappe-kampus en die Breakwater-kampus met sy satellietkampus in Philippi wat onlangs gevestig is. Besoek ons gerus gedurende een van ons jaarlikse opedae, of reël ’n begeleide toer van ons pragtige instelling met die Toelatingskantoor as jy daaraan dink om by die UK te studeer.

Die UK-gemeenskap bestaan uit buitengewoon begaafde studente, dosente en navorsers, asook ’n groot verskeidenheid professionele, administratiewe en dienspersoneel. Dié hele gemeenskap streef daarna om die wêreld ten goede te verander. Ons moedig mekaar aan om hard te werk. Nie net om grade te verwerf en openbare erkenning te geniet nie, maar ook om leiers te wees in ’n wêreld wat toenemend verander.

Ons visie is om ’n inklusiewe, navorsingsgedrewe Afrika-universiteit te wees wat hedendaagse uitdagings deur middel van gevorderde onderrig, navorsing en onderrig die hoof bied. As universiteit verbind ons onsself tot die bevordering van transformasie, om onvermoeid te werk om die volhoubaarheid van ons instelling te verseker, en om uitnemendheid in al ons doen en late te waarborg.

Die UK het ’n trotse tradisie van akademiese uitnemendheid en is tans die top-universiteit in Afrika, én een van die top-universiteite in die wêreld. Ons navorsers ontwikkel deurgaans Afrika-oplossings vir wêreldkwessies. Dit sluit in klimaatsverandering, verstedeliking, veiligheid en sekuriteit, asook opvoeding en gesondheid, om maar net ’n paar te noem. Talle UK-navorsers is erkende wêreldleiers in hul onderskeie velde. Om hier by ons te studeer, beteken dus dat jy deurgaans aan die nuutste vakkundige werk en navorsing blootgestel sal word.

Die UK bied uitstekende onderrig en moedig studente aan om hul leierskap- en diensvaardighede uit te bou. Ons nooi ons studente om betrokke te raak by ’n verskeidenheid vrywilligerprojekte in plaaslike gemeenskappe, om by die meer as 100 verenigings en 40 sportklubs op kampus aan te sluit, of om terug te ploeg in die instansie deur op studentekomitees te dien.

Die UK-gemeenskap is lewendig, divers en kosmopolities. Ons personeel en studente kom uit verskillende gemeenskappe in Suid-Afrika, en meer as 100 lande regoor Afrika en die res van die wêreld. Elke individu het iets om by te dra tot die UK se gehalte en groei, en ons streef daarna om almal wat tyd hier deurbring tuis te laat voel.

Hoër onderwys baan nie net die weg tot opwindende loopbaangeleenthede nie, dit kan ook help om Suid-Afrika se jong demokrasie te bou. Goeie burgerskap vereis van elkeen van ons om ons land se vraagstukke en ons individuele verantwoordelikhede te verstaan. In hierdie opsig kan onderwys help om die samelewing in sy geheel te transformeer, en heelparty UK-alumni lewer tans uitmuntende bydraes tot die samelewing deur middel van die vaardighede wat hulle hier aangeleer het.

Ondanks die menige uitdagings wat ons universiteit en land in die gesig staar, is ek vas oortuig dat dit ’n opwindende tyd is om by die UK te wees. Dit is ’n tyd waarin dit moontlik is om ’n daadwerklike verskil te maak.

Professor Mamokgethi Phakeng
Visekanselier

E-pos:  vc@uct.ac.za

TOP